Daar
is ‘n jong, nuwe sangsensasie van die Kaap wat die ganse musiekindustrie aan
die gons gaan hê. Carlo, ‘n baie aantreklike
donkerkop man, se CD, met sy naam as titel, het ‘n energieke en noemenswaardige
CD met 15 snitte uitgebring wat ‘n baie breë gehoor totaal en al gaan
oorrompel.
Van
die eerste polsende klanke van Ek mis jou
vanaand, jeuk jou voete om op te spring en die dansvloer te bestorm. Sommer
gou besef jy die ritme stop nie! Daar is goeie variasie maar sonder
uitsondering dra elke lied Carlo se onmisbare, uitbundige stempel – selfs
Anneli van Rooyen se immer-mooi Neem my
op Vlerke word getransformeer tot ‘n polsende, kloppende nommer wat jou
noop om saam te sing – en hy doen dit briljant sonder om die sensitiwiteit van die lied prys
te gee. Sy stemgehalte is deurgaans onteenseglik en baie sexy, maar met Ronan
Keating se This I promise you, stel
hy sy veelsydigheid ten volle en met groot sukses ten toon. Dis hoendervleis
mooi.
Hierdie
is nie sommer net nog ‘n hier-jy sanger wat tot die mark wil toe-tree nie ...
Carlo,
wat reeds vanaf 12-jaar ouderdom sing, het benewens ‘n indrukwekkende verskeidenheid
diplomas en trofeë ook heelparty ander uitsoek prestasies op sy kerfstok.
Terwyl hy nog op skool was, het hy die hoofrol losgeslaan in die internasionale
musiekblyspel, Grease, wat in Johannesburg op die planke was. In 2001 het hy
die groot eer gehad om Suid-Afrika te verteenwoordig by Mother City Records
(die breinkind van Eddie Singleton, eienaar van Mowtown Records in die VSA). As
voorsanger vir die groep Amy Blue, het hy sy stemvaardigheid geslyp.
Daarbenewens was hy ‘n gaskunstenaar by talle optredes saam met groot name, o.a
Sonja Heroldt, hy het inleiding-songs gedoen vir Nigerian Galdiators, Notorious
en Vibe. En nog is het einde niet! Die besige man het ook deelgeneem aan die
produksie, Duck Charles, wat die legendariese sanger Cliff Richard se loopbaan
vereer het. In die agt weke wat die stuk op die planke was, het kritici net lof
gehad. Nadat hy 16de geeïndig het in die plaaslike Afrikaanse Idols realiteitsprogram,
het hy met hernude selfvertroue besluit om sy drome ten volle na te volg.
Die
ervaring het Carlo ook aangespoor om sy toetrede tot die Afrikaanse mark te
maak, aangesien die taal hom na aan die hart lê. Dit was ‘n uitstekende
loopbaan besluit! Alhoewel hy ‘n luisterryke loopbaan gehad het, maak groot
deure tans vir hom oop.
By
2008 se KKNK het hy die skares op hulle voete gehad, en te oordeel aan die
oorweldigende reaksie, is hy stewig oppad na sukses.
Elke
nommer op hierdie verrassende briljante CD is ‘n treffer. Carlo is beslis die
nuwe naam om dop te hou – sy natuurlike sjarme, talent en die feit dat hy boonop
aantreklik is, gaan sorg dat hy tsunami’s in die industrie veroorsaak!