Die mense wat weet, het die
afgelope ses maande met afwagting waargeneem hoe Liza Brönner se debuutalbum
ontvou. En hier is dié 19-jarige nou met haar wêreldklaspopalbum: Onderstebo!
Die elf snitte op die album is
‘n opwindende toonvenster van Liza se stewige talent wat verby haar jeug strek.
Dit vestig dié Centurion-kunstenaar as een van die belowend-blinkste nuwelinge
in ‘n musiekmark, wat maar al te dikwels op beproefde formules berus.
Die album kan nie sommer in ‘n kassie gedruk word nie.
Dit is Afrikaans, maar dit bevat ook ‘n kragtige Engelse treffer; dit is pop,
maar dit bevat genoeg ballades wat die smaak van kontemporêre musiekliefhebbers
sal bevredig; dit is sneltempomusiek, maar dit streel ook die hartsnare.
Die stylveelsydigheid is
inderdaad ook ‘n spieël van Liza self. In haar vroeër tienerjare het sy
gospelliedjies saam met haar ma gesing in tronke regoor die land. Dié ervaring
beteken vir haar meer as die talle talentkompetisies waaraan sy deur die jare deel
geneem het. “Ek het meer geleer van daardie ondervinding en om te sien hoe
gevangenes hul situasie hanteer as wat ek uit enige ander optrede in my
tienerjare kon leer.”
Liza stuit vir niks en sy was
vasberade om Steve Hofmeyr te nader. Sy was by die Bloubul se 70ste verjaarsdag
op Loftus in 2008. Daar het sy genoeg moed bymekaar geskraap om haar
demo-opname aan Steve te oorhandig. Twee weke later het Steve se assistent haar
gebel om te hoor of sy beskikbaar is om op Steve se kykNET-porgram Dis hoe dit is met Steve op te tree.
“Ek het eers gedink iemand
skeer die gek met my,” erken Liza, maar dit het spoedig duidelik geword dat dié
oproep die ware Jakob was – en Liza het haar televisiedebuut in Januarie
vanjaar op die program gemaak. Tydens die opname het sy die bekende regisseur,
liedjieskrywer, kitaarspleler en sanger Andries Botha, voorheen van die
broerduo Georgia,
ontmoet.
Dit was die begin van hul
briljante kreatiewe verhouding. Die resultaat is Onderstebo - en kenners
voorspel dit is ‘n album wat Bronner én Botha op die spreekwoordelike kaart
gaan plaas.
“Dit was ‘n ongelooflike
ondervinding om saam met hom te werk; moontlik die beste leerkurwe waarvoor ek
kon vra,” vertel sy opgewonde oor Andries se regie.
Naas die wêreldklasproduksie en
Liza se natuurlike gawe, spog die album met ‘n aantal sonderlinge oorspronklike
komposisies.
Die medewerkers was die
liedjieskrywers Belinda Bronner, Johan Brug, Andries Botha en Louwrens
Bezuidenhout, wat inderdaad die liedjie Boerekind in Londen geskryf het; reeds
‘n treffer by Liza se optredes, soos onlangs by Innibos en ander feeste. Dié
liedjie ontgin Liza se volwasse stembenadering en beklemtoon die gemak waarmee
sy selfs emosioneel kan vertolk en uitdagende
materiaal kan
hanteer.
“Ek hou van uitdagings,” erken
Liza – en sy voeg daaraan toe: “Ek is gereed om self liedjies vir my volgende
album te skryf. Ek weet dit is iets wat ek kan doen wanneer die tyd ryp is daarvoor. Maar
nou is ek tevrede om my eie stempel af
te druk op die briljante liedjies wat spesiaal vir my vir die album geskryf
is.”
Tussen die liedjies is World without me, die enigste Engelse
liedjie (ook uit Louwrens se pen) op die album. Haar vertolking hiervan bewys
sy kan die
kragballade so goed soos Kelly Clarkson vertolk.
Met die treffers Boerekind in Londen en World without me gaan Liza ‘n breë
gehoor tréf; gereed om haar talent blink te slyp en saam met haar bewonderaars
te laat gedy.