Soek    

Liza Bronner



Die mense wat weet, het die afgelope ses maande met afwagting waargeneem hoe Liza Brönner se debuutalbum ontvou. En hier is dié 19-jarige nou met haar wêreldklaspopalbum: Onderstebo!

Die elf snitte op die album is 'n opwindende toonvenster van Liza se stewige talent wat verby haar jeug strek. Dit vestig dié Centurion-kunstenaar as een van die belowend-blinkste nuwelinge in 'n musiekmark, wat maar al te dikwels op beproefde formules berus.

Die album kan nie sommer in 'n kassie gedruk word nie. Dit is Afrikaans, maar dit bevat ook 'n kragtige Engelse treffer; dit is pop, maar dit bevat genoeg ballades wat die smaak van kontemporêre musiekliefhebbers sal bevredig; dit is sneltempomusiek, maar dit streel ook die hartsnare.

Die stylveelsydigheid is inderdaad ook 'n spieël van Liza self. In haar vroeër tienerjare het sy gospelliedjies saam met haar ma gesing in tronke regoor die land. Dié ervaring beteken vir haar meer as die talle talentkompetisies waaraan sy deur die jare deel geneem het. "Ek het meer geleer van daardie ondervinding en om te sien hoe gevangenes hul situasie hanteer as wat ek uit enige ander optrede in my tienerjare kon leer."

Liza stuit vir niks en sy was vasberade om Steve Hofmeyr te nader. Sy was by die Bloubul se 70ste verjaarsdag op Loftus in 2008. Daar het sy genoeg moed bymekaar geskraap om haar demo-opname aan Steve te oorhandig. Twee weke later het Steve se assistent haar gebel om te hoor of sy beskikbaar is om op Steve se kykNET-porgram Dis hoe dit is met Steve op te tree.

"Ek het eers gedink iemand skeer die gek met my," erken Liza, maar dit het spoedig duidelik geword dat dié oproep die ware Jakob was - en Liza het haar televisiedebuut in Januarie vanjaar op die program gemaak. Tydens die opname het sy die bekende regisseur, liedjieskrywer, kitaarspleler en sanger Andries Botha, voorheen van die broerduo Georgia, ontmoet. 

 

Dit was die begin van hul briljante kreatiewe verhouding. Die resultaat is Onderstebo -  en kenners voorspel dit is 'n album wat Bronner én Botha op die spreekwoordelike kaart gaan plaas.

"Dit was 'n ongelooflike ondervinding om saam met hom te werk; moontlik die beste leerkurwe waarvoor ek kon vra," vertel sy opgewonde oor Andries se regie.

Naas die wêreldklasproduksie en Liza se natuurlike gawe, spog die album met 'n aantal sonderlinge oorspronklike komposisies.

Die medewerkers was die liedjieskrywers Belinda Bronner, Johan Brug, Andries Botha en Louwrens Bezuidenhout, wat inderdaad die liedjie Boerekind in Londen geskryf het; reeds 'n treffer by Liza se optredes, soos onlangs by Innibos en ander feeste. Dié liedjie ontgin Liza se volwasse stembenadering en beklemtoon die gemak waarmee sy selfs emosioneel kan vertolk en uitdagende materiaal kan hanteer.

"Ek hou van uitdagings," erken Liza en sy voeg daaraan toe: "Ek is gereed om self liedjies vir my volgende album te skryf. Ek weet dit is iets wat ek kan doen wanneer die tyd ryp is daarvoor. Maar nou is  ek tevrede om my eie stempel af te druk op die briljante liedjies wat spesiaal vir my vir die album geskryf is."

Tussen die liedjies is World without me, die enigste Engelse liedjie (ook uit Louwrens se pen) op die album. Haar vertolking hiervan bewys sy kan die kragballade so goed soos Kelly Clarkson vertolk.

Met die treffers Boerekind in Londen en World without me gaan Liza 'n breë gehoor tréf; gereed om haar talent blink te slyp en saam met haar bewonderaars te laat gedy.