Juan is in Richardsbaai aan noordelike kus van Kwazulu Natal gebore en
het groot geword in Meyerton, waar hy die Laerskool Dr. Verwoerd bygewoon het
en gematrikuleer het aan die Hoërskool Dr. Malan. Van jongs af
beoefen hy sy passie vir die verhoog en musiek deur aan die skoolrevue deel te
neem en in te skakel as voorsanger by sy gemeente. Juan studeer Teologie
by RAU (UJ) en aan die Teologiese Kollege van die AGS, waar hy ook op die
studenteraad dien. Op universiteit neem hy deel aan konserte, musiek,
drama en dans, wat nog een van sy passies is. Juan het ‘n hart en ‘n
passie vir jongmense, en om hulle by te staan met innerlike en emosionele
genesing. Dit is ook belangrik om jongmense te help en motiveer om hulle
volle Godgegewe talente en potensiaal te ontwikkel.
Sy droom en passie het begin toe hy na die lewensverhaal van “The Judds”
(‘n Country sanggroep) gekyk het. Juan het begin ervaar dat daar meer in
die toekoms is vir hom en het begin sanglesse neem in sy etenstyd. By ‘n
50ste verjaardagpartytjie het hy karaoke gesing, en 1 liedjie het vinnig 5
geword, en daar het hy geweet dat dit is wat hy wil doen. Juan het ‘n
diep verhouding met God en wil graag doen wat God aan hom gee om te doen.
Hy sê egter dat met God as sy eerste liefde, is sy passie vir sing soos die
beste uitvinding “since sliced cheese”.
In Feb.’09 neem hy deel aan ‘n talentjag kompetisie by Sance’s waar hy
2de prys verower. Daar het hy ook vir Francois Storm ontmoet en het saam
met hom begin “open mic” sing. Tans bied hy self die “open mic” aan by Sance’s
waar daar ook aan ander jongmense die geleentheid gebied word om hulle talent
uit te leef en ook hulle selfvertroue te bou.
Hy het in die afgelope jaar opgetree by plekke soos Hillfox, Leeuplaas
(Heilbron), Hatfield, Grootvlei, J & B’s, Club Mykanos, Stonehaven en die
Cocktail Lounge. Hy tree ook op by talle kerke. Hy het onlangs
deelgeneem aan ‘n vertoning in Balito, Natal. Juan het die voorskou vir
die band, “Cuba” gedoen, en beskryf dit as: “Wat ‘n show!” Hy sal
ook te sien wees vanaf die 18de tot die 20ste Desember by “Opi
shack”-musiekfees. Intussen is sy talent opgemerk en is hy nou tans besig
met sy eerste Cd-opname.
Hy vind sy inspirasie vir skryf in die stil tye tussen sy vier mure waar
hy net homself kan wees en dinge oor die lewe tussen hom en God kan uitklaar. Hy bestudeer graag die skryfstyle van ander
kunstenaars ook, maar glo daarin dat jy nie iemand anders as net jouself kan
wees nie.
Hy skryf sy sukses toe aan entoesiasme, ondersteuning, harde werk, uithouvermoë
en haal graag John Maxwell aan: “Sometimes prospects may seem dimmest just when
they’re on the turn. A little more
persistence, a little more effort, and what seemed a hopeless failure may turn
into a glorious success.”
Hy gee al die eer aan die Here vir sy talent, en is dankbaar om iets te
kan teruggee aan die gemeenskap. Hy sê ook dankie aan sy familie, vriende
en “fans” vir hulle ondersteuning.