Soek    

Pieter Naude



Die Suidwester, Pieter Daniel Naude, is gebore en getoë in die destydse Suidwes (vandag Namibië) en is 'n stoere Blou Bul ondersteuner. Pieter, wat al vir meer as 17 jaar bedrywig is in die musiekbedryf, geniet dit om musiek te maak en het nog altyd gedroom om die hoogste sport te bereik.

In 1989 het Pieter sy lewensmaat, Ester, ontmoet en vir 6 jaar met haar uitgegaan voordat hy op sy knieë gegaan het en die ja-woord gevra het. Pieter en Ester is in 1995 getroud en het 2 pragtige dogters wat hy sy "engele" noem, Danelle & Sunita.

Pieter en sy vriend, Rennie Strauss het in 1990 'n tweeman orkes in Windhoek begin genaamd Zenith en het vir 12 jaar die hele land plat getoer. Pieter en Rennie het later in samewerking met Juanita du Plessis (Pieter se suster) en swaer Doepie die groep Jupidu gestig en ten minste eenkeer per maand saam opgetree… musiek is beslis in hierdie boetie en sussie se bloed.

In 2002 het Pieter Namibië verruil vir Suid-Afrika en 'n nuwe lewensboek begin, weg van die bekende. Pieter het vir 'n paar maande saam met Juanita en Doepie getoer en gehelp met die beligting op haar vertonings.

In 2004 het Pieter besluit om weer self op die verhoog te klim en te sing. Select Musiek was daar om Pieter se eerste CD, Mooiste Meisie, bekend te stel. Hierdie CD was baie goed ontvang deur Suid-Afrikaanse sowel as Namibiese gehore en het vir meer as 5 weke op die DKNT Top 10 gepronk. Hy is vereer met Nuweling en liedjie van die jaar op SA Country top 10. Pieter is ook in 2006 genomineer as "Nuweling van die Jaar" tydens die Huisgenoot Tempo Toekennings en het 'n gewilde gesig en stem geword op TV; by feeste; bekende kuierplekke ens.

Nadat hy 2 jaar gelede deur een van die giftigste spinnekoppe, gebyt is en daarna gediagnioseer is met 'n gewas op die brein het Pieter sy sangloopbaan bietjie opsy geskuif en behoorlik herstel.

Pieter se 2de album is pas uitgereik deur Juanita Records en Maroela Musiek. Pieter se nuutste CD is een van die opwindste CD's vir 2008. Die duet met Juanita, Wag vir jou,en ook die titel van die album asook vele ander gaan baie voete laat skuifel oor die dansbaan!

FEITE OOR PIETER:
Geboortename: Pieter Daniël Naudé
Verjaardag: 11 Junie
Geboorteplek: Suidwes (Namibië)
Matrikuleer: Hoërskool Windhoek (W.H.S)
Gesin: Getroud (1995) met Ester.
Die egpaar het twee dogters, Danelle en Sunita.

Pieter verpes…
"Mense wat skinder, mense wat vals is, mense wat oneerlik is."
"Mense wat dom vrae vra."
"Mense wat vir my lieg."

Pieter se bly-maak dinge…
"My musiek: niks oortref die genot van mense wat jou musiek geniet nie."
"My kinders se laggies."
"My vrou en my kinders gee betekenis aan die lewe."
Pieter is…
mal oor rugby, krieket, atletiek, motorsport en vleisbraai."
baie beskermend teenoor my familie."
'n ekstrovert en versot op mense."
'n man wat daarvan hou om dinge NOU te doen!"
'n baie haastige mens en hou nie daarvan om te drentel nie"
'n ou wat lekker kan eet; net nie soetgoed nie."
baie spaarsamig en mors nie geld op onnodige goed nie."
'n baie reguit mens."

Gunsteling-sêding: "Ek het klaar gepraat!"

Pieter Naude het beslis "klaar gepraat" met sy hertoetrede tot die Afrikaanse musiekbedryf, want met sy nuutste CD, "Wag vir Jou", sal almal met eens stil word en luister na die besondere stem wat hier is om 'n verskil te maak en te bly!